Dit is ʼn wonderlike genade wat die Here aan ʼn kerk gun om vir 50 jaar te bly voortbestaan op een plek.

Al is daar kerke wat baie langer as 50 jaar reeds bestaan, is dit vir ons hier in Mafikeng besonders, omdat

ons nooit groot was nie. Daar moet onthou word dat al is die gemeente binne ʼn stadsatmosfeer, dit ʼn

plattelandse gemeente bly. Een van die min gemeentes wat in ʼn swart onafhanklike staat is en nog

steeds gegun word om ʼn Afrikaanssprekende gemeente te bly.

Ons hoop u sal die deurlees van hierdie blad geniet. Dit is nie bedoel om volledig te wees nie, maar om

iets vir die gelowige in die hand te gee, sodat hy of sy ook prakties kan sien hoe God deur die jare hier in

Mafikeng gewerk het, in en deur die Gereformeerde Kerk Mafikeng.

Baie dankie aan al die oud predikante en oud lidmate wat ʼn geskrewe bydrae gelewer het van die tyd wat

hulle hier was.

 

Die Gereformeerde Kerk Mafikeng is die sewende oudste van die 22 gemeentes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika se Klassis Molopo.

Vanjaar herdenk ons 75 jaar sedert ons ontstaan op 15 Augustus 1942.

Ons is baie dankbaar vir die bestaan van die gedenkbundel met die 50-jarige bestaansfees van ons gemeente, wat saamgestel is deur wyle Hendrik Olivier.

Dit is ʼn voorreg en genade vir gereformeerde lidmate in Mafikeng en omgewing om na 75 jaar steeds ʼn geestelike heenkome te hê.

Baie dankie aan ʼn ieder en ʼn elk se insette en bydraes om hierdie boek moontlik te maak.

By die GKSA se argiewe het ons op die volgende afgekom:

Die argief se leuse: “Stof tot Nadenke”

Asook:

“Solank ons herinneringe het, leef gister nog”

“Solank ons hoop, wag môre ons in”

“Herinneringe is vir Altyd – Bewaar dit!”

Aan God al die eer!

1942 - 2017