WAAROM ‘N GEREFORMEERDE KERK TE MAFIKENG?
As ʼn mens begin dink oor wat aanleiding gegee het tot die stigting van ʼn kerk op ʼn spesifieke plek en spesifieke tydstip is dit seker die eerste gedagte wat by ʼn mens opkom – wat was die Here se doel daarmee en wat het die mense met hulle roeping gemaak?
Die antwoord op die eerste vraag is sekerlik te vinde in die opdrag van die Here aan die dissipels in Matt 28:19. “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels; doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Dit is dan ook juis die genade van God dat hy mense se lewens so rig dat hulle op ʼn gegewe tydstip op ʼn gegewe plek uitkom.
Om by Mafikeng uit te kom, sal ʼn mens moet terugkyk na die hele verloop van die geskiedenis. Van die koms van Jan van Riebeeck en die Protestantse geloof tot waar ons vandag is. Daar sal kennis geneem moet word van dit wat die dryfveer in ons voorvaders was. Hulle drang na vryheid en onafhanklikheid. Hulle sterk geloof in wat waar en reg is en hulle bereidheid om daarvoor te veg. Selfs die onbuigsaamheid en hardkoppigheid kan nie misgekyk word nie, want dit was ook deel van die vorming van dit wat die Afrikaner vandag is. Tog het die Here ook hierdie mense gebruik om sy Evangelie na afgeleë gedeeltes te bring. Dit is sekerlik genade en die hand van die Here in die geskiedenis kan nie misken word nie en moet ook vir ons moed gee vir die toekoms.
WAT WAS DIE FAKTORE IN DIE GESKIEDENIS WAT DIE AFRIKANER EN DAARMEE SAAM
DIE GEREFORMEERDES BY MAFIKENG UITGEBRING HET?
Die drang om nie deur die Engelse oorheers te word nie
Dit het die Groot Trek, die twee Anglo Boere-oorloë en die Dorslandtrek tot gevolg gehad.
Die jagtersinstink en die trekgees
Wild was volop in hierdie gebied en gereelde jagtogte is onderneem. Dit het hierdie gebied sekerlik baie gesog gemaak. Hierby kan ook die uitspraak van twee van die Dorslandtrekkers Gert Alberts en GJS vd Merwe gevoeg word: “Ons had ʼn roerende gees in ons hart van trek.”
Die drang om grond te besit
Sekerlik die grootste faktor hier was die plase wat die Baralong-hoofde Montshiwa en Moshwete aan die vrybuiters beloof het om hulle te help in hulle stryd teen mekaar. (Op ‘n storm van drome – A du Toit)
Die stigting van die republieke Goosen (met Rooigrond as hoofstad) en Stellaland (met Vryburg as hoofstad)
In Mafikeng is daar nog baie straatname van manne uit hierdie era. Hierdie strate is veral rondom die S.A. Ambassade geleë. Jan Viljoenlaan, Gey van Pittiuspark, ens.
Die ontdekking van diamante te Bakerville (naby Lichtenburg)
Op ʼn stadium was daar selfs 16 skole op Bakerville. Vandag is dit ʼn verwaarloosde spookdorpie.
Die stigting van die Republiek van Botswana
Dit laat baie van die nageslag van die Dorslandtrekkers bedreig voel en hulle keer terug veral na die gebiede van Zeerust, Burhmansdrif en Rooigrond.
ANDER FAKTORE WAT DIE GESKIEDENIS VAN DIE GEMEENTE BEïNVLOED HET
Die anneksasie van Betsjoeanaland deur die Britse regering
Mafikeng word die administratiewe hoofstad van Betsjoeanaland. Sekerlik uniek dat ʼn hoofstad buite ʼn land geleë is.
Die onafhanklikheid van die Republiek van Bophuthatswana
Eers die onsekerheid. Daarna die groei en vooruitgang.
Om die geskiedenis van elke faktor wat ʼn invloed op die gemeente gehad het in detail na te gaan sou sekerlik baie interessante leesstof wees, maar val buite die bestek van hierdie feesblad.
1992
MAFIKENG UIT ZEERUST BEDIEN
In 1932 word daar in die notules van die Gereformeerde Kerk Zeerust vir die eerste keer melding gemaak van lidmate van die Gereformeerde Kerk wat te Mafikeng woonagtig is. Diaken NJB Oosthuizen van die Molopo-wyk bring die lidmate onder die aandag van die kerkraad. Die Kerkraad maak toe voorsiening vir gereelde bediening van die Woord. Daar moes egter altyd ʼn ouderling van ander wyke gedeputeer word om teenwoordig te wees met eredienste. Een van hierdie ouderlinge, br. Kootjie Witrand, word gestuur om huisbesoek in Mafikeng te doen. Op die 7de Julie 1933 dring ouderling JP Snyman (Kootjie Witrand), namens die lidmate van Mafikeng daarop aan dat ‘n ouderling vir die wyk gekies moet word. Daar heers groot verwaarlosing en diaken NJB Oosthuizen wat ver van Mafikeng woon, kon daar nie na wense arbei nie.
Die Kerkraad besluit toe op ʼn vergadering gehou op 6 Oktober 1933 om aan die versoek te voldoen en vervolgens is die eerste kerkraadslede vir die Mafikeng-dorpswyk gekies. As ouderling word br. AJ Marais en as diaken br. CC Venter verkies. Ouderling Marais is toe bevestig maar aangesien br. Venter vir ʼn tyd lank verplaas is, is br. J.A. vd Walt aan die begin van 1934 in sy plek as diaken bevestig. Broeder Cor Venter se kinders en kleinkinders woon nog in die omgewing. Wouter de Vos wat naby Manyane woon, is met een van oom Cor Venter se dogters getroud.
AFSTIGTING
Die eerste versoek om afstigting van die gemeente Mafikeng dien voor die vergadering van 28 Junie 1940 en is gedoen namens 46 belydende lidmate. Toestemming daartoe word op die vergadering van 20 September deur die kerkraad van Zeerust gegee en vir goedkeuring aan die klassis voorgelê. Op 20 Desember 1940 word deur die deputate aan die klassis berig dat goedkeuring verkry is. Daar word toe besluit dat met die afstigting voortgeggaan sal word sodra die Partikuliere Sinode van Kaapstad ook sy toestemming verleen het, omdat Mafikeng in Kaapland geleë was. Die finale afstigting vind plaas op 15 Augustus 1942. Die kennisgewing van afstigting verskyn in die Kerkblad van Vrydag 3 Julie 1942.
Die eerste vergadering van die nuwe gemeente vind op 15 Augustus 1942 plaas.
Die volgende persone was as klassisdeputate teenwoordig:
Vir Gereformeerde Kerk Lichtenburg: Ds. JC vd Walt en oudl. SJ du Plessis
Ventersdorp: Ds. A Postma & oudl. FJJ de Kock
Zeerust-Swartruggens-Drieviersboom: Ds JJS Venter
Zeerust: Oudl. JS Snyman en oudl. JPL Snyman
Wyksouderlinge Mafikeng: Oudl. JM Malan en oudl. CC Venter
Wyksdiakens Mafikeng: Diaken JAV vd Walt en diaken L van Wyk
Spesiaal deur Mafikeng genooi: Ds BJ de Klerk ook bekend as Goliat.
Die veertigerjare was natuurlik moeilike jare. Die oorlog het baie dinge skaars gemaak. Dit het ook die kerklike lewe geraak. Op ʼn kerkraadsvergadering van 2 Augustus 1942 word ʼn brief aan die plaaslike magistraat gerig met die versoek dat koepons vir petrol aan die deputate vir die afstigting toegestaan moet word sodat hulle die reis heen en weer kan voltooi (6 gallon petrol).
Die grenslyne word as volg saamgestel
Mafikeng – Zeerust: Kafferskraal, Kareelaagte 81, Klippan 79, De Putte 4, Twyfelshoek 327, Klippan 194, Kareelaagte 51, Putjesvlakte 52, Welgedacht 100, Uitzicht 212, Leeuwbosch tot aan die Moloporivier.
Lichtenburg en Mafikeng: Die Transvaal – Kaaplandgrens vanaf die Moloporivier.
Eerste Kerkraad van die gemeente
Ouderlinge: JM Malan
CC Venter
Diakens: JAV vd Walt
L v Wyk
Op die vergadering van 16 Aug 1942 word diaken JA vd Walt gekies as skriba, kassier en korrespondent.
Broeder en suster P Grobler skenk ʼn orrel aan die nuwe gemeente.
Ds JJS Venter is predikant van Zeerust gedurende hierdie tyd.
Broeder SCW Schutte word aangestel as koster teen 24 pond per jaar sonder gratis behuising. Dit was destyds in baie gemeentes die gebruik dat ʼn koster ook behuising gekry het.
Die eerste katkisant ene Susanna Maria Petronella van Wyk word op 15 Mei 1942 deur die Kerkraad ondervra en toegelaat om belydenis van geloof af te lê.
Die lidmatelys van die nuutgestigte gemeente is as volg:
Belydende lidmate
Beukes – Johanna Maria (geb Bekker)
Cussons – Pieter Willem
Cussons – Louisa Lasea (geb Jacobs)
Grobler – Paul
Grobler – Elizabeth Maria Francina (geb du Plessis)
Jerling – Johanna Catharina
Kotze – Floris Jacobus
Kotze – Salmina Jacoba (ged Redelinghuys)
Kruger – Petrus Stephanus
Kruger – Anna Elizabeth (ged van Wyk)
Malan – Jacobus Marthinus
Malan – Anna Petronella (ged Kruger)
Oosthuizen – Nicolaas Johannes Basson
Oosthuizen – Susanna Petronella (ged Strydom)
Snyman – Sarel Jacobus
Snyman – Mathys Gerhardus
Snyman – Hester Susanna Margaretha (ged Oosthuizen)
Saaiman – Jacobus Adriaan
Spoelstra – Thomas Nicolaas
Spoelstra – Susanna Jacoba (ged Coetzee)
Van Aswegen – Hendrik Andries
Van Aswegen – Helena Jacoba (van Wyk)
Van der Berg – Gert Andries
Van der Berg – Sara Maria Sophia (Lombard)
Van der Walt – Jan Adriaan Venter
Van der Walt – Maria Isabella (bed vd Walt)
Van der Walt – Jacob Johannes Lodewikus
Van Rensburg – Barend Petrus
Van Rensburg – Catharina Beatrix (geb Geldenhuys)
Van Wyk – Lodewikus
Van Wyk – Hester Elizabeth (geb du Plessis)
Van der Hever – Adriaan Jacobus
Van der Hever – Cornelia Maria
Van Vuuren – Gerhardus
Van Wyk – Lukas Abraham
Van Wyk – Susanna Maria Petronella (geb Pretorius)
Venter – Cornelis Coenraad
Venter – Maria Magdalena Salome (geb du Pisanie)
Wille – Carel George
Wille – Johanna Magdalena Maria (geb Pretorius)
Wille – Christina Wilhelmina
Wille – Catharina Yda Maria
Ysel – Jan
Pretorius – Magdalena Catharina
Pretorius – Mechiel Jacobus
Maartens – Stephanus Jacobus
Venter – Anna Cecilia
Van der Walt – DCP
Van der Merwe – CE
Daar word ook melding gemaak van 40 dooplidmate
Foto van die eerste lidmate